Dis nie te soet nie, en die lekker gemmerskop en heerlike klewerige sous maak hierdie kaaskoek onvergeetlik.
Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 20 min.
Bak: 50 min.
Verkoel: 2 uur
KORS
350 g gemmerkoekies
100 g botter, gesmelt en afgekoel
VULSEL
100 g witsjokolade, fyn gekap
3 bakkies (750 g) roomkaas teen kamertemperatuur
60 ml (¼ k) strooisuiker
4 groot eiers
10 ml (2 t) vanieljegeursel
10 ml (2 t) fyn gemmer
SOUS
5 stingelgemmerballe in stroop
250 ml (1 k) room
80 ml (⅓ k) bruinsuiker
50 g botter
Voorverhit die oond tot 160 °C. Smeer ’n 20 cm-veerpan met botter.
- Kors: Verwerk die koekies in ’n voedselverwerker of menger tot fyn en meng die botter in tot klam klonte vorm. Druk op die bodem en teen die kante van die bakpan vas. Verkoel terwyl jy die vulsel maak.
- Vulsel: Plaas die witsjokolade in ’n glasbak oor ’n pot pruttende water en roer tot die sjokolade smelt. Verwyder van die hitte.
- Klits die roomkaas en strooisuiker sowat 3 minute tot donsig in ’n groot bak; skraap die kante indien nodig. Voeg die eiers een-een by en klits ná elke byvoeging tot net gemeng. Klits die vanieljegeursel en gemmer in. Klits geleidelik die gesmelte witsjokolade in tot baie goed gemeng.
- Giet die vulsel in die voorbereide kors. Bak sowat 50 minute of tot die vulsel geset het en effens bewe wanneer die pan sagkens geskud word. Trek ’n klein mes al om die kante van die kaaskoek om dit van die pan los te maak. Laat heeltemal afkoel. Verkoel twee uur.
- Sous: Meng al die bestanddele in ’n kastrol oor lae hitte en laat prut tot die suiker opgelos het. Sit eenkant tot afgekoel en skep dan oor die afgekoelde kaaskos. Sit voor bedek met vrugte van jou keuse.
Deur Hope Malau