Brood en appel word in vla gebak en met karamelsous bedruip. Eenvoudig en vertroostend.
Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 15 min.
Week: 10 min.
Bak: 45 min.
POEDING
250 ml (1 k) room
500 ml (2 k) volroommelk
200 ml (¾ k) ligbruinsuiker
5 ml (1 t) fyn kaneel
5 ml (1 t) sout
5 ml (1 t) vanielje-ekstrak
9 eiergele
4 Granny Smith-appels, geskil, ontpit en gekap
60 g neute
1 brood (verkieslik oud), in stukke gesny of geskeur
SOUS
200 ml (¾ k) suiker
150 g ongesoute botter
125 ml (½ k) karringmelk
5 ml (1 t) koeksoda
5 ml (1 t) vanielje-ekstrak
2 ml (½ t) fyn kaneel
’n knippie sout
Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n bakskottel van 15 x 23 cm.
- Poeding: Klits die room, melk, suiker, kaneel, sout, vanielje-ekstrak en eiergele in ’n groot mengbak en sit eenkant.
- Plaas die appel, neute en geskeurde brood in die voorbereide skottel en meng. Giet die vla oor. Meng versigtig en maak seker die brood is met vla bedek. Los 10 min. sodat die brood die vla kan opsuig.
- Bak 45 min. of tot die middel geset het. Laat koel 5 min. af.
- Sous: Maak intussen die sous. Meng die suiker, botter en karringmelk in ’n kastrol. Bring tot kookpunt oor matige hitte en laat prut 1 min.
- Verwyder van die hitte en roer eers die koeksoda geleidelik in en dan die vanielje-ekstrak, kaneel en sout. Die sous sal verdik namate dit afkoel.
- Bedruip van die karamelsous oor die broodpoeding wanneer dit uit die oond kom. Sit die poeding voor saam met die res van die sous of roomys, indien jy dit verkies.
Deur Hope Malau
Foto: Jacques Stander