Romerig, glad en ’n strelende einde tot ’n maaltyd. Hierdie Franse nagereg word met grenadella bedek, maar jy kan enige vrugte van jou keuse gebruik.
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 5 min.
Gaarmaak: 5 min.
Verkoel: 3 uur
250 g wit sjokolade
80 ml (⅓ k) melk
5 ml (1 t) vanielje-ekstrak
3 eiers, geskei
375 ml (1½ k) room
pulp van 3 grenadellas
- Plaas die wit sjokolade, melk en vanielje-ekstrak in ’n hittebestande bak oor ’n kastrol pruttende water. Sorg dat die bak nie aan die water raak nie. Verhit tot die sjokolade net gesmelt het terwyl jy gereeld roer. Laat 5 minute afkoel.
- Voeg die eiergele een vir een by die gesmelte sjokolade en klits goed ná elke byvoeging.
- Klits die room in ’n bak tot sagte pieke vorm en vou dit dan deur die sjokolademengsel tot net gemeng.
- Klits die eierwitte in ’n groot, skoon, droë bak tot sagte punte vorm. Vou in twee sarsies deur die sjokolademengsel met ’n groot metaallepel.
- Verdeel die mousse tussen vier ramekins, glase of flesse. Bedek en verkoel 3 uur of tot geset. Verwyder uit die koelkas en skep die grenadella-pulp bo-op net voor opdiening.
Deur Hope Malau
Foto: David Briers