“Gemak in ’n koppie” beskryf hierdie nagereg volmaak. Sjokolademousse en botterskorsie – die perfekte pasmaats.
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 20 min.
Gaarmaak: 10 min.
Verkoel: 1 uur
250 g donkersjokolade
60 ml (¼ k) water
30 ml (2 e) brandewyn (opsioneel)
25 g botter, in blokkies gesny
80 ml (⅓ k) room, geklits
4 eiers, geskei
’n knippie kremetart
60 ml (¼ k) strooisuiker
Botterkaramel
250 ml (1 k) room
125 ml (½ k) botter
250 ml (1 k) bruinsuiker
5 ml (1 t) vanieljegeursel
- Smelt die sjokolade gemeng met die water in ’n bak oor ’n pot pruttende water terwyl jy af en toe roer tot al die sjokolade gesmelt het.
- Verwyder van die hitte en klits die brandewyn (as jy dit gebruik) en botter in en roer tot glad. Roer ’n lepel vol room by die sjokolade in. Vou die sjokolademengsel by die oorblywende room in.
- Klits die eierwitte tot skuimend, voeg die kremetart by en skep ’n lepel op ’n slag suiker in terwyl jy weer klits tot sagte punte vorm. Vou sagkens ’n kwart van die eierwitte by die sjokolademengsel in en vou dan die oorblywende eierwitte sagkens in.
- Giet die mengsel in 4 afsonderlike bakke of koppies en verkoel 1 uur of tot geset in die yskas.
- Botterkaramel: Verhit die room in ’n kastrol oor matige hitte, voeg die botter by en roer tot gesmelt. Roer die suiker in en hou aan roer tot al die suiker opgelos het. Laat prut tot dik. Roer die vanieljegeursel in en laat effens afkoel.
- Giet ’n dun laag botterkaramel oor die mousse en sit voor.
Deur Hope Malau
Foto: David Briers